Persverklaring

Willie Joubert


Ons lewens word gekenmerk aan seisoene. As mens na Willie se lewe kyk, spesifiek die afgelope paar jaar, is dit duidelik dat hy beslis deur 'n winter seisoen kom. Na 'n ses-vat hartomleiding en heelwat gesondheidsuitdagings is dit sigbaar dat winters nie altyd net sleg is nie want dit bring groei en verdieping.

Dit is hoorbaar in elke lied op hierdie nuwe CD, Jy is Vry. Veertien van die vyftien snitte kom almal uit Willie se pen. Elke lied het besondere bedieningswaarde en diepte terwyl dit jou dring tot lof en aanbidding. Dis 'n lekker afwisseling van opgeruimde vrolike lofliedere sowel as ernstige aanbiddingsliedere, meestal afrikaans met 'n paar engelse juwele. Mens kan nie stilsit as jy die lied Hy is die God luister nie, en stil bly kan jy beslis nie, wanneer jy saam die Here wil loof en prys op Heilig Heilig en Ons sing saam, om maar net 'n paar te noem. Meer soos Jesus, is net wat dit sê, 'n gebed van heiligmaking en selfondersoek waarmee elkeen van ons kan identifiseer.

Die agter-ossie wat 'per ongeluk' op die CD beland het en uiteindelik die titelsnit word, Jy is vry, is geskryf deur die baie talentvolle Carlé van Deventer, en hoort beslis op hierdie CD. Willie se vokale vermoëns wat trou met die mooiste melodie en lirieke maak dat hierdie lied in 'n versameling van uitstekende liedere, die kersie op die koek is.

Met hierdie CD gaan Willie nie net sy eie aanhangers bederf met die mooiste musiek nie, maar gaan hy sommer baie nuwe aanhangers se harte raak met dit wat God aan hom toevertrou het.

Hierdie is 'n CD waarna jy lekker gaan luister terwyl jou hart geroer word en jou binneste geïnspireer sal word met die liefde van Jesus.